Miljoene euro stroom in vir Katedraal

Dit is asof die rykstes onder die rykes in Frankryk op humoristiese wyse mekaar daag om beter te doen in die skenkings wat bedoel is om die Franse Notre Dame Katedraal in Parys te restoureer.

’n Eerste bydrae van 10 miljoen euro is met gejuig aangehoor, maar enkele ure later kom die volgende skenking van 100 miljoen euro, om twee uur later opgevolg te word met ’n belofte van 200 miljoen euro.

Binne 24 uur het die skenkings tot meer as 700 miljoen euro gestyg, en onbevestigde berigte lui dat nog groot bedrae ingewag word uit verskillende wêrelddele.

Teen die tempo behoort voldoende fondse ingesamel te word om die geskiedkundige gebou na sy eertydse glorie terug te bring, alhoewel daar nog miljoene benodig gaan word om die verbrande binneruim en eeue oue toerusting te vervang wat kundige beeldhouwerk en houtsnywerk gaan vereis.

Meer as 500 brandweermanne het sowat 9 uur lank gedurende die nag gewerk om die brand geblus te kry en die grootste aantal kosbare oudhede in die Katedraal kon na veiligheid geneem word danksy die dapper optrede van talle mense.

Vermoede bestaan dat die brand moontlik ontstaan het met die kontrakteurs wat besig was om noodsaaklike herstelwerk te doen, maar geen sekerheid bestaan tans, en speurders is besig met ’n intensiewe ondersoek na die aangeleentheid.