Koste van ‘n staking

Meer as 15,000 mynwerkers sal vir die eerste keer in vyf maande weer begin werk by die Driefontein – Kloof- en Beatrix myne na ‘n geskil tussen die vakverbond Amcu en die Sibanye groep. 

Die nuwe ooreenkoms toon dat werkers R700 per maand meer sal verdien as voorheen, maar intussen het vyf maande se salaris verlore gegaan en produksie by die myne het tot stilstand gekom.

Miljarde rand se produksie is verlore, en die hervatting van werk deur die stakers sal volgens kenners nie beteken dat die verlore man-ure ingehaal gaan word nie.

’n Ekonoom van Pretoria het aan Die Vryburger gesê die vakbonde in Suid-Afrika is die grootste enkele rede waarom die land op die rand van die afgrond staan en enige tyd rommel status kan bereik.

Die vakbonde lewer geen positiewe bydrae tot lede se omstandighede nie, en behou hulle deur onredelike looneise te rig tot werkgewers, en stakings te organiseer.