Kim steek kers op by Poetin

Die leier van die Kommunistiese Noord-Korea, Kim Jong-Un het bekendgemaak dat hy binnekort na Rusland vertrek om samesprekings met president Vladimir Poetin te voer.

Alhoewel die omstrede Kim vry na Russiese beleggings om sy finansiële kreeftegang teen te werk, bestaan daar sterk vermoede dat hy meer as net beleggings wil bekom.

Noord-Korea is volgens politieke ontleders, waarskynlik besig om advies in te win oor hoe om die volgende ontmoeting met President Donald Trump te benader.

Daarbenewens word bespiegel of Kim nie besig is om met Rusland en Sjina te konkel om die sanksies teen te werk met ontoelaatbare invoere uit die twee lande nie.

Rusland, wat oor jare ’n goeie verhouding met Noord-Korea gehandhaaf het, sal waarskynlik weer van waarde wees met advies en bystand om die knellende internasionale sanksies teen te werk.