Gevaar van persoonlike besonderhede

Die moontlikheid dat ’n goedgelowige kliënt se persoonlike besonderhede wêreldwyd rondgeslinger kan word, behoort met wetgewing verbied te word, sê ’n kenner van Pretoria.

Kliënte word dikwels gevra om persoonlike besonderhede beskikbaar te stel wanneer besigheid gedoen word met ’n instansie.

Hotelle, winkels en bankiers, munisipaliteite, staatsdepartemente en ander instansies is almal verantwoordelik om die persoonlike inligting van ’n persoon as hoogs vertroulik te hanteer.

Die feit dat selfoonnommers flink verkwansel word aan instansies, is ’n eerste aanduiding dat nie alle instansies betroubaar is met die beskerming van mense se inligting nie.

Dit laat die vraag waarom die mense van Suid-Afrika so naïef bly om hulle persoonlike besonderhede, en selfs hulle bankrekening besonderhede, op aanvraag beskikbaar te stel.

Bekendes in Pretoria het aan Die Vryburger gesê ondersoek behoort ingestel te word na die gevaarlike toestand en verwag van politici om die euwel vas te vat met veel strenger wetgewing.

Die kenners beveel aan dat mense, wanneer ’n instansie hulle persoonlike besonderhede verlang, moet vra watter waarborg gebied word dat die inligting baie vertroulik bewaar sal bly.