Europese Parlement sonder meerderheid

Met Brittanje wat nie sal deelneem aan die verkiesing van lede vir die Europese Parlement nie, blyk dit uit die jongste peiling dat geen party ’n volstrekte meerderheid sal kry nie.

Wat ontstellend is vir die Franse en Duitse regeerders, is dat die nasionaliste baie sterk verteenwoordig sal word.

Volgens ’n peiling wat pas gedoen en in Brussel gepubliseer is, sal die Europese Volksparty (EPP) wat tot nou toe ’n volstrekte meerderheid het, slegs 188 setels verower teenoor die gesamentlike setels van die drie nasionalistiese partye se 142, terwyl die Liberale party 72 setels kan kry.

Die EPP sal dus genoodsaak wees om met van die linkse partye se steun te kry indien hy in beheer wil bly, maar dit is duidelik dat die opkoms van nasionalisme in Europa ’n sterk invloed het op die samestelling van die Europese parlement.

Met ’n totaal van 751 setels en ’n hele klomp kleiner groeperinge, kan die werksaamhede van die Europese Parlement aansienlik bemoeilik word.