Cholera versprei wyd in Mosambiek

Geneeshede en wetenskaplikes se kommer dat cholera en malaria nou sy tol kan eis in die vloed geteisterde Mosambiek na die verwoestende sikloon Idai deur die land getrek het, word bewaarheid met wydverspreide gevalle van cholera.

’n Ernstige waarskuwing is uitgereik dat cholera nou kan uitbreek weens die tekort aan gesuiwerde water, maar kenners wys daarop dat die waarskuwings nie die plattelandse gebiede bereik nie.

Verslae wat ontvang is dui daarop dat meer as 160 gevalle van cholera reeds aangemeld is, en die vermoede bestaan dat baie gevalle nie aangemeld word nie weens die swak kommunikasie met die plattelandse gebiede.

In Beira alleen is reeds 140 gevalle aangemeld nadat daar die vorige dag ’n totaal van 5 gevalle gerapporteer is.

Mediese deskundiges wys daarop dat die klimaat nou gunstig is vir malaria muskiete wat gaan uitbroei, en dit kan lei tot ’n nog groter probleem vir die inwoners.