Cholera gevalle verdubbel in twee dae

Die aantal gevalle van cholera het binne 48 uur verdubbel in Mosambiek wat erg geteister is deur sikloon Idai van twee weke gelede.

Die stryd teen die gevolge van die sikloon wat verwoesting gesaai het, is nog nie verby nie, en nou het cholera as die volgende krisis die inwoners getref.

Met meer as 1 miljoen mense wat veg om oorlewing na die sikloon hulle van alles gestroop het, is die haglike toestande nog verder aan die uitbrei en vrees dokters dat malaria ook nog die gebied gaan tref.

Sowat 300 cholera gevalle is reeds aangemeld, en die vermoede is dat talle gevalle van cholera in die afgeleë gebiede nog nie aangemeld is nie.

Entstof teen die siekte word hierdie week verwag, en sowat een miljoen dosisse is onderweg om te keer dat di siekte nie ’n algehele ramp veroorsaak nie.