Brexit: “Geen ooreenkoms” gekelder

Die Britse Laerhuis het met ’n meerderheid van een stem, wetgewing goedgekeur wat uittrede uit die Europese Unie sonder ’n ooreenkoms, finaal kelder.

Brexit kan dus slegs gefinaliseer word indien die parlement ’n ooreenkoms met die Europese Unie goedkeur.

Die Britse Hoërhuis moet egter die wetgewing finaal goedkeur alvorens die May-regering verplig sal word om ’n ooreenkoms te beding wat uittrede moontlik sal maak.

Die Britse Premier, Theresa May, het glo teen die voorgestelde wetgewing gestem, maar het ook teen die moontlikheid van geen ooreenkoms gestem.

Waarnemers sê dit wil lyk of die premier steeds ’n stryd voer om as Britse premier staande te bly, en waarnemers reken die moontlikheid van ’n tweede referendum word ’n al groter moontlikheid.

Meningsvormers in Brittanje is oortuig daarvan dat ’n tweede referendum oor EU lidmaatskap ’n ander uitslag gaan lewer wat voortgesette lidmaatskap sal steun.