ANC in verleentheid oor Ace

Die vakbond Saftu het die ANC en sy Sekretaris-generaal, Ace Magashule, gelooi vir hulle “uitermatige politieke arrogansie”.

Dit volg na die ANC en die Sekretaris-generaal se reaksie op die beskuldigings wat deur die vakbond se Zwelinzima Vavi gemaak is.

Vavi het gesê nie hy of sy vakbond of enige Suid-Afrikaner kan sê dat hulle geskok is deur die nuus van die optrede van Ace nie, aangesien almal bewus is van die korrupsie wat in die Vrystaat was.

Die boek wat nou op die winkelrakke te koop aangebied word, getiteld “Gangster State” het soveel opslae in die media gemaak dat die skrywer, Pieter-Louis Myburgh, nou vervolging in die gesig staar deur die ontevrede en woedende ANC lid, Ace Magashule.

Die boek handel hoofsaaklik oor die korrupsie waarby Ace Magashule klaarblyklik betrokke was tydens sy premierskap in die Vrystaat.

Die skrywer maak ook bewerings van hoe die Vrystaatse premier skakeling met die Guptas gekry het en die korrupsie wat daarmee verband hou.

Die boek se verskyning kort voor die verkiesing het nou ’n erge verleentheid vir die ANC en Cyril Ramaphosa geword wat volgens politieke ontleders ’n negatiewe uitwerking op die ANC se steun sal beteken.