TLU SA wil weet of Andile Mngxitama vervolg word

TLU SA het ‘n dringende versoek gerig aan die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging: Adv. Shamila Batohi om uitsluitsel te gee oor of die leier van Black First Land First (BLF), Andile Mngxitama wel vervolg gaan word.
TLU SA het op 11 Desember 2018 ‘n klag van haatspraak teen Mngxitama by die polisie gelê. Hy het die vorige dag in Potchefstroom, Noordwes tydens ‘n openbare byeenkoms voor ‘n groot gehoor gedreig om vyf wit mense dood te maak vir elke een swart persoon wat doodgemaak word. Hy het voortgegaan om vroue en kinders te dreig: “We will kill their children, we will kill their women, we will kill anything we find on our way”.
“Ons het tot dusver nog geen terugvoer gekry oor waar die saak staan nie,” sê Louis Meintjies, die President van TLU SA. “Na verskeie oproepe en e-posse het ons op 26 Februarie per hand ‘n brief afgelewer by die NVG se kantore. Ontvangs daarvan is deur Adv. E Matzke namens die Adjunk-Direkteur van Openbare Vervolging erken en sy het onderneem om ‘binne twee dae’ terugvoer te gee. Ons het nogsteeds niks gehoor nie.”
Klagtes is ook deur verskeie groepe by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) aanhangig gemaak om die BLF se registrasie as politieke party terug te trek. Die OVK se Gedragskode verbied politieke partye wat aan die verkiesing deelneem om onder andere; taal te gebruik wat geweld uitlok en stemmers te intimideer.
Die OVK het egter gesê dat dié reël nog nie geld nie omdat dit nie ‘n binne ‘n verkiesingstyd val nie.
Mngxitama het dit vandeesweek tydens die BLF se registrasie vir die verkiesing by die OVK se kantore duidelik gemaak dat wit mense nie welkom is in sy party nie (kyk gerus hier die video).
“Dié soort haatspraak wat gedurig uit sy mond kom is uiters opswepend en is dikwels die vonk in die kruitvat wat lei tot gewelddadige aanvalle en selfs moord op plase,” sê Meintjies. “Die NVG faal liederlik in sy taak om ‘n haatspreker soos Andile Mngxitama te vervolg. Hy kom letterlik weg met moord.”
TLU SA doen ‘n beroep op die publiek om druk toe te pas op die Nasionale Vervolgingsgesag se Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging: Adv. Shamila Batohi, om hom wel te vervolg.