Theresa May verpletterend verslaan

Parlementslede van die Verenigde Koninkryk het gestem teen die Eerste Minister, Theresa May, se jongste voorstelle vir uittrede uit die Europese Unie.

Die parlementslede het met 391 stemme teen haar voorstelle beslis, en haar ondersteuners was slegs 242 parlementslede.

Met die nederlaag is die Britse premier in die politieke woestyn en sal haar optrede vorentoe fyn voetwerk vereis as sy wil voortgaan as premier van Brittanje.

Sy kon die meerderheid parlementslede nie oortuig dat die nuwe voorstelle enige standhoudende waarborge bied nie, en het haar opsies sodanig verskraal dat uittrede as premier waarskynlik die beste opsie is wat oorbly.

Voor die stemming het die Britse Prokureur-Generaal daarop gewys dat die nuwe voorstelle weinig of geen verandering teweegbring op die vorige ooreenkoms nie, en dit is waarskynlik die rede waarom sy weereens ’n nederlaag op die lyf geloop het.