Rusland hoop op beter VSA verhouding

Die Kremlin het die bewerings en bevinding van die Mueller-verslag verwerp waarin Rusland beskuldig is van inmenging in die presidentsverkiesing van Amerika ten einde President Trump se kandidatuur te bevorder.

Die grootste verwagting aan die Russiese kant is dat daar nuwe moontlikhede bestaan dat President Donald Trump se onskuld wat nou bewys is, kan bydrae tot ’n nuwe verhouding tussen Washington en Moskou.

Die Russiese regering het sy wens uitgespreek dat president Trump ’n nuwe bladsy kan begin deur ’n beter verhouding met President Vladimir Poetin en sy regering kan vestig.

Waarnemers wys daarop dat die Russe van mening is dat President Donald Trump sterk teen Rusland opgetree het weens die feit dat hy deurgaans vir die afgelope twee jaar daarvan beskuldig is dat hy ’n geheime verhouding met Rusland gehad het.

Met die bewering uit die weg geruim deur die verslag van Robert Mueller is die Amerikaanse president se posisie versterk en kan hy bekostig om die swak verhouding met Rusland te herstel, word gesê.

President Donald Trump was die afgelope twee jaar deur die linkse media verguis en beskuldig daarvan dat hy met Rusland geheul het.