Premier May bereik deurbraak met EU

Die Britse Eerste Minister, Theresa May, het aangekondig dat ’n deurbraak gemaak is om Brexit af te handel, en hoop die Britse parlement sal haar nuwe voorstelle aanvaar.

Die tyd vir verdere onderhandelings is besig om uit te loop, en die verwagtinge om finaal uit die Europese Unie te tree op 29 Maart, is steeds in onsekerheid gehul.

Die Premier sê sy het Maandag wettige waarborge gekry van die Europese Unie wat Britse parlementslede sal oortuig om haar voorstelle te steun.

Die waarborg sal glo verseker dat die Verenigde Koninkryk (VK) se mees kontroversiële aspek, die sogenaamde Ierse grens kwessie, slegs tydelik van toepassing sal wees.

Die parlementslede was baie beslis oor die wettigheid van die veranderings, wat nou deur die premier beding is.

Die grens tussen die Republiek van Ierland en Noord-Ierland het maande lank ’n ernstige debat ontlok in die Britse parlement, en daarna ook in die Europese Unie, maar nou lyk dit of die premier se deursettingsvermoë goeie vrugte kan lewer.