Motor rubriek – Suzuki Jimny GLX m/t

Gedurende November 2018 is dit bekend gemaak dat die nuutste Suzuki Jimny binnekort in SA beskibaar gaan wees en getrou aan sy aard het dit dan ook gebeur. Dit is beskikbaar by die Suzuki handelaars en by nadere ondersoek is die berigte bevestig dat hierdie voertuig ‘n “klein parmant” is.

Dit is so effe korter as die vorige model want die agterste stamper is herontwerp, dit staan ook bietjie hoër van die padoppervlakte en is breër. Bykomende versterkings is aan die leervormige onderstel aangebring en dit maak dit stewiger en is beweging van die bakwerk minder.

Die grondvry hoogte is met 20 mm vermeerder en is nou 210 mm en die aankoms, oorgang en vertrek hoeke is 37/49/28 grade onderskeidelik en dit maak dit ‘n nog meer bruikbare voertuig om mee in die modder, sand, bosse en op die nasionale paaie te gebruik. Hierdie 4×4 voldoen aan bykans alle vereistes vir die 4×4 liefhebber.

15 duim bande word nog steeds gebruik maar is smaller en die grootte bande wat gebruik word is 195/80R 15.

Die kragbron wat gepas is, is ‘n K15B, 1462 kub. sentimeter, inlyn vier silinder met dubbel oorhoofse nokas met 16 kleppe en voorsien wringkrag van 130 Nm by 4000 o.p.m en die krag is 75 kW teen 6000 o.p.m. Dit is gekoppel aan ‘n vyf spoed hand ratkas met 2H, 4H en 4L oordrag ratkas wat geskakel kan word vir 4×4 gebruik.

Daar kan met gemak in die Suzuki ingeklim word en vir die voorste passasier is daar ‘n handvatsel gemonteer wat gebruik kan word om die inklim proses nog makliker te maak. Om by die agterste sitplek uit te kom word die voorste, linkerhandse sitplek vorentoe gedruk en kan daar ingeklim word.

Daar is wel nie baie plek by die agterste sitplek nie maar tog genoeg om passasiers te kan akkommodeer. Die groot vensters sorg dat die uitsig na buite onbelemmerd is. In so ‘n mate dat jy met gemak die natuur buite kan geniet. Die vierkantige enjinkap wat soortgelyk is aan die SJ410 van lankal sorg dat daar met gemak in ‘n klein parkeerruimte in beweeg kan word. Op versoek kan die handelaar waarskuwings sensors installeer sodat daar nie teen ‘n ander voertuig bots wanneer daar byvoorbeeld na agter beweeg word. Suzuki ingenieurs het by die wen resep gebly en die vierkantige bakvorm met die enkel, groot hoofligte voor met kolligte in die voorste stamper rond die prentjie ewe netjies af.

Die groot “S” embleem in die middel van die voorste sierrooster verseker dat daar geen twyfel bestaan watse voertuig dit is nie!

Ander handige toerusting wat gepas is sluit in lugversorging, lugsakke, veiligheidsgordels, ISOFix monterings, ABS remme met ESP ondersteuning, radio, materiaal bedekte sitplek oortreksels, halogeen hoofligte en nog talle ander handige bybehore.

In die luukse GLX model is LED hoofligte gepas, die voorste, regterhandse deur se venster is elektries beheerbaar vir die bestuurder, die stuurwiel is met leer oorgetrek en ‘n sewe duim aanraakskerm is gepas en dit is ook beskikbaar met ‘n outomatiese ratkas. Verskeie ander handige stukke toerusting is beskikbaar waaronder skakelaars wat op die stuurwiel gemonteer is vir beheer van sommige van die toerusting.

Soos met sy voorgangers beloof hierdie voertuig om baie gewild te word onder 4×4 liefhebbers want dit is maklik, eenvoudig en daar is nie allerhande tierlantyne gepas wat maak dat jy eintlik omtrent op ‘n kursus moet gaan om dit te kan gebruik nie.

Dit kan selfs deur moeder gebruik word om die kinders skool toe te neem en te gaan haal.

Indien dit oorweeg word om ‘n 4×4 voertuig aan te skaf of u is in die mark vir een, kan u dit gerus op u aankope lys plaas en u naaste Suzuki handelaar gaan besoek vir ‘n toetsrit daarmee.

Dit is een van my persoonlike gunstelinge en ek wens ek en die bankbestuurder kan ooreenkom!!!