Mosambiekers se nuwe krisis

Terwyl duisende inwoners van Mosambiek sonder ’n woonplek is nadat die sikloon Idai die land verwoes het, het nuwe probleme hulle voorland.

Kommer bestaan by internasionale state en ander hulporganisasies dat malaria en cholera nou in ’n groot gebied kan uitbreek.

Met die swak infrastruktuur, verspoelde paaie en brûe, asook ’n tekort aan mediese diens en voorraad, kan dit maklik tot ’n nuwe ramp lei.

Kenners sê die krisisse wat die land het, vergelyk byna met die enorme probleem in die oorlog geteisterde Jemen en ook in Sirië waar duisende mense weens wanvoeding en tekort aan mediese dienste, ’n enorme ramp tegemoetgaan.

Die infrastruktuur wat wel bestaan het, is ernstig beskadig toe die sikloon deur die land getrek het en duisende mense sonder woonplek gelaat het.

Alhoewel verskeie lande finansiële steun bied, en ander ook noodvoorraad gestuur het, beskik die land nie oor ’n goed georganiseerde reddingspan wat behulpsaam kan wees met die verspreiding nie.