Is dit eerlike besigheid?

Die kruidenierswinkel word in toenemende mate verdink van uitbuiting en onbillike winsmakery deur nie konsekwent te handel met sekere produkte wat aan die publiek beskikbaar gestel word nie.

Om 2 papajas wat netjies verpak is, teen ’n gestelde bedrag aan te bied, mag op die oog af goed lyk, maar as ’n ander verpakking van twee veel groter papajas dan vir dieselfde prys aangebied word, is daar iewers ’n ernstige fout.

Verbruikers verwag van die handelaar om die papajas te weeg en daarvolgens ’n prys op elke verpakking te plak, is die eerlike manier van sake doen.

Dieselfde rel geld vir talle ander produkte, en as avokado’s sonder ’n etiket van die variëteit aangebied word, kan die verbruiker beswaar maak by die bestuur of die verbruikersraad daarvan in kennis stel.

Soms word hoendereiers verkoop terwyl dit gemerk is op die houer dat dit ekstra groot is, maar word dit geweeg, dan is daar dikwels ’n verpakking wat nie aan die gestelde standaarde voldoen nie.

As wortels, aartappels en tamaties geweeg kan word om ’n prys te bepaal, dan geld dit vir elke ander kossoort wat aangebied word in die groente en vrugte afdeling.

Dit is hierdie ongerymdhede wat verbruikers die gevoel gee dat hulle uitgebuit word en tog ook magteloos voel daaroor.