Geen verrassing in Nigeriese verkiesing

Die amptelike uitslag van die presidentsverkiesing in Nigerië het geen verrassing gelewer nie, en die huidige president is as wenner aangekondig deur die Verkiesingskommissie.

President Muhammadu Buhari het daarin geslaag om verkies te word vir ’n tweede termyn, maar talle lede van die opposisie aanvaar nie die uitslag nie en beweer die verkiesing kan nie as vry en regverdig verklaar word nie.

Opposisiepartye kla dat hulle ondersteuners deur die regering se ondersteuners afgedreig is en dat gekonkel is met stembriewe.

Vroeër is gemeld dat talle stembriewe in die strate deur die wind weggewaai is en deur kiesers gebruik is om vir ’n tweede en selfs ’n derde keer te gaan stem.

Die voormalige militêre diktator het met meer as 4 miljoen stemme gewen teen sy naaste teenstander, Atiku Abubakar, wat ’n eertydse visepresident in Nigerië was.

Minder as 36% van die geregistreerde kiesers het by die stembusse opgedaag om hulle kruisie te trek.