Die eeu van elektronika

Weg is die dae wat mense in toue gestaan het om hulle swaar verdiend geldjies per tjek te gaan inbetaal by die bank se takkantoor. Weg is die dae wat jy gereeld die bankbestuurder se kantoor besoek het om reëlings te tref, te pleit vir ’n oortrekking, en skouer te skuur oor ’n tjek wat “gehop” het weens ’n tekort aan fondse.

Deesdae word die kliënt ’n bedrag toegeken as oortrekkingsfasiliteit en kry hy ’n kredietkaart wat verdere krediet verleen.

Die besoek aan die bank is ’n seldsame gebeurtenis by die meeste kliënte, en die internet maak alles moontlik. Met selfoon, skootrekenaar of die kantoor rekenaar kan enige banksaak gemaklik hanteer word.

Lugtyd vir die selfoon, elektrisiteit aankope, internet data, die skep van nuwe spaarrekenings of ander fasiliteite word sommer slf gedoen sonder om die bank te besoek.

Daarmee alles, en nog veel meer, het die tjekboek verdwyn, word kontant selde benodig en word rekenings sommer met die druk van ’n paar knoppies gedoen.

Selfs die bekende OTM bankstelsel word al minder besoek, en eersdaags sal dit ook ’n wit olifant op die rak van die bankiers wees.

Dit is wat die uitvindsel van elektroniese bankdienste gebring het, en is tot almal se gerief, behalwe wanneer die kragvoorsiener nie krag voorsien aan sy verbruikers nie – dan staan alles stil.