Venezuela sluit grens met Brasilië

Te midde van die haglike omstandighede waarin menige inwoners van Venezuela verkeer weens ’n tekort aan voedsel en ander lewensmiddele, het die Maduro-regering die grens met Brasilië ook gesluit.

Dit volg nadat die land se president, Nicolas Maduro, beweer het dat Venezuela niks bedel by ander lande nie, en ook die land se grens met Columbië gesluit het waar die VSA tonne noodvoorraad afgelewer het met twee reuse vragvliegtuie.

Maduro het die Weermag opdrag gegee om die toegangsroetes te blok en geen noodvoorraad van die VSA deur te laat nie.

Die selfverklaarde waarnemende president, wat ook leier van die opposisieparty is, het ’n program opgestel waarby helpers gemobiliseer is om die noodvoorraad onder inwoners te versprei teen die einde van Februarie.

Maduro het later gesê die grens met Brasilië word gesluit gehou tot latere kennisgewing, en waarnemers sê die president het daarmee nog ’n stap verder gegaan in die rigting van Rusland as bondgenoot.

Die grens tussen Brasilie en Venezuela beslaan ’n afstand van 2,200 kilometer, en waarnemers sê die Weermag sal mense nie kan verhinder om na die buurland t beweeg om noodvoorraad te bekom nie.