Oorlog broei tussen Indië en Pakistan

Die spanning tussen Indië en Pakistan het reeds ’n gevaarlike stadium bereik, en Indiese lugaanvalle op tydelike militêre kampe in Pakistan is die gevolg van ’n vorige aanval op Indiese soldate.

Vroeër is 40 soldate van Indië gedood in ’n verrassingsaanval wat vermoedelik deur Pakistan uitgevoer is, alhoewel die land ontken dat hy die aanvaller is.

Die Indiese regering het gesê dat die land die reg het om homself te beveilig teen aanvalle, en daarna bevestig dat lugaanvalle uitgevoer is op militêre teikens van Pakistan.

Die Indiese Eerste Minister, Narendra Modi, het die Indiese Weermag ’n vrye hand gegee om op te tree ten einde Indië se veiligheid teen moontlike Pakistan aggressie te beskerm.

’n Woordvoerder van Pakistan se Weermag, Majoor-generaal Asif Ghafoor het gesê die optrede van Indië is oorhaastig gedoen.

’n Militêre woordvoerder van Pakistan het later daarop gewys dat die Indiese lugaanvalle plaasgevind het op ’n onbewoonde gebied waar ’n groot bosplantasie is en geen skade is aangemeld nie.