“Neem terug die vegters van IS”

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Europese lande versoek om die mense wat vir die Islamitiese Staat in Sirië geveg het, en deur die VSA magte gevange geneem is, terug te neem en te vervolg.

Die oproep kom nadat Europese lande traag was om die vegters “terug te neem” wat teen die VSA gestry het as Islamitiese Staat terroriste.

President Trump het die afgelope naweek ’n oproep gedoen dat Europa die sowat 800 vegters moet terugneem wat teen die Koerdiese magte gestry het en hulle verhoor volgens die internasionale reg.

Die Islamitiese Staat is verslaan in Sirië waar hulle vir jare ’n kragtige “eie staat” gehad het en een van die Siriese stede, Raqqa, as hulle hoofstad beskou het.

Amerikaanse lugaanvalle, en die kundigheid van die Koerdiese magte, het egter in ’n lang stryd, die terroriste verpletter sodat daar tans slegs ’n klein groepie oorgebly het wat waarskynlik in die komende weke verslaan sal word.