Motor rubriek – Renault Koleos

Dit is ‘n bekende feit dat Renault ‘n betroubare en baie bruikbare voertuig is en hiervan getuig byvoorbeeld die Duster. Daar kan dus met sekerheid aanvaar word dat die nuutste Koleos sy “padskoene” met gemak sal kan volstaan.

Heelwat veranderings is aan die heel nuutste Koleos aangebring. So word daar nou gebruik gemaak van die Nissan 2,5 liter QR25DE, 16 klep, vier silinder petrol enjin. Dit het meer wringkrag teen lae toere en die Alliance X-Tronic CVT, sewe spoed ratkas word gebruik. Hierdie kragbron voorsien 126 kW krag teen 6000 o.p.m en die wringkrag is 233 Nm teen 4000 o.p.m. Alhoewel van akademiese belang is die Expression instaat om van 0 tot 100 km/u te versnel in 9,5 sekondes terwyl die topsnelheid 185 km/u is.

Volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik vir die 4×2 voertuig 8,1 l/100 km en vir die alle wiel aandrywing voertuig 8,3 l/100 km. Vir die alle wiel aandrywing voertuig word die iDrive 4×4 stelsel van die Nissan X-Trail gebruik.

Sedert 2016 word die Koleos op die Renault-Nissan Common Family Module onderstel gebou waarvan die wielbasis 15 mm langer is, die bakwerk is 12 mm smaller en dit hurk 17 mm nader aan die pad oppervlakte. Met die veranderings wat aan die bakwerk aangebring is, is dit nagenoeg 120 kg ligter.

Daar is drie modelle in die reeks en die afwerking verskil min van mekaar en die twee verskillende ratkaste wat gebruik word is eintlik die grootste verandering wat aangebring is. Vir die Expression word daar gebruik gemaak van 17 duim allooi wielnawe, tru parkeer sensors, swart materiaal bekleedsel vir die sitplekke met hand verstelling van die sitplekke, outomatiese aanskakel van die hoofligte, outomatiese aanskakel van die windskerm veërs, outomatiese beheer vir die lugversorger, elektries beheerde vensters en kant spieëls, sewe duim aanraak skerm, die gewone Bloutand proppe en nog talle ander handige stukke toerusting.

Wat die afwerking as ‘n geheel aanbetref is daar min kritiek te lewer en dit vergelyk met die beste in die sport nuts mark. Die Renault is beskikbaar in ses verskillende kleure waarvan wit die standaard kleur is. Aan die voorkant is die enjinkap geheel op sy eie terwyl die hoofligte deel vorm van die sierrooster met die bekende Renault kenteken in die middel van die sierrooster. Die kolligte is aan die buitekant en aan die onderste deel van die voorste stamper gemonteer met die onderste gedeelte van die luginlaat silwer geverf is. Aan die sykant is daar beskerming voorsien en die agterkant by die kattebak deksel het dit ‘n geronde vorm met die agterligte wat om die hoek van die bakwerk aan weerskante gemonteer is terwyl twee ovaal uitlaat pype sorg dat daar van die uitlaat gasse ontslae geraak word. Die bagasie ruimte is ‘n handige 464 liter met die sitplek leunings in plek en wanneer dit weggevou word verhoog dit na 1790 liter tot teen die dak.

Met die verstellings wat daar is vir die sitplekke is dit moontlik om ‘n gemaklike sit posisie in te neem en met die sydelings rug ondersteuning, wat wanneer die lang pad aangedurf word, is die kans om moeg te word tot die minimum beperk.

Die instrumente wat voor die bestuurder gemonteer is, is maklik leesbaar en al die gebruikers toerusting is binne maklike bereikbare afstand.

Die veiligheidsaspekte van die voertuig is nie agterweë gelaat nie. ABS remme met EBA, EBD en ESC ondersteuning vorm deel van die standaard toerusting en daar is ses lugsakke geïnstalleer met ondersteuning wanneer daar teen ‘n steil opdraande weggetrek moet word en snelheidsbeheer vir wanneer daar op die snelweë gereis word om te verseker jy beland nie in die moeilikheid nie.

Hierdie is die ideale voertuig vir die natuur liefhebber want die uitsig na buite is onbeperk en die voertuig kan gerus op u aankope lys geplaas word sou u so ‘n voertuig wou aanskaf.