Geen ooreenkoms met Noord-Korea nie

Die Verenigde State en die kommunistiese Noord-Korea kon tot geen ooreenkoms kom tydens die afgelope twee dae se beraad in Vietnam nie.

Die kommunistiese leier, Kim Jong-Un het geëis dat alle sanksies teen sy land opgehef word, maar President Donald Trump het geen toegewing in die verband oorweeg nie.

Kim Jong-Un het onderneem om die proses van aftakeling van sy kernwapen strukture te begin sodra die sanksies teen sy land opgehef is.

President Trump eis weer dat die strukture onder toesig afgetakel word en sodra die kernwapens en die strukture vernietig is, sal die sanksies opgehef word.

Aanvanklik is gereël dat die twee leiers ’n gesamentlike persverklaring sou vrystel, maar die Wit Huis het later bevestig dat President Trump ’n eie verklaring sal uitreik en ’n perskonferensie sal hou.

Die Wit Huis het ook bevestig dat geen ooreenkoms oor die beeïndiging van Noord-Korea se Kernwapen program bereik is nie.

President Trump se eerste opmerking na afloop van die gesprekke, was dat “hy nog nooit bang was om weg te stap van ’n ooreenkoms nie”.