Dosyne sterf in Nigerië oor verkiesing

Die regering se besluit om die verkiesing in Nigerie met ’n week uit te stel, het nie net ontevredenheid by kiesers opgewek nie, maar het ook tot gewelddadige optrede gelei.

Minstens 40 mense het omgekom in Saterdag se presidentsverkiesing toe burgerlikes met veiligheidsmagte slaags geraak het en opponerende partye met mekaar gebots het.

Die onsekerheid onder kiesers het toegeneem nadat die stemlokale ook vir ’n tweede dag moes open weens die ontoereikende reëlings wat vooraf getref is.

Die Nigeries polisie het bevestig dat sowat 128 mense gearresteer is tydens die tweede dag van stemmery wat vir opposisielede onaanvaarbaar is.

Kiesers het ongebruikte stembriewe in die strate opgetel wat deur die wind rondgewaai is, en hulle het selfs vir ’n tweede en derde keer daarmee gaan stem.