Dit gaan sleg met SA

In ’n eksklusiewe onderhoud wat Die Vryburger gevoer het met ’n bekende politieke ontleder, blyk dit dat 2019 nie ’n jaar van goeie vooruitsigte is nie.

Die anonieme kenner sê die vooruitsigte word al donkerder met Eskom wat die land al dieper in die skuld dompel met beurtkrag.

Benewens die enorme R2 miljard wat dit daagliks beloop om beurtkrag te verduur, het dit ’n uiters negatiewe uitwerking op potensiële beleggers in die buiteland.

Die resessie waarin SA tans verkeer, tesame met die geweldige skuldlas van die staat, dwing die Minister van Finansies om ongunstige maatreëls te tref om die bike te laat balanseer, maar kan nie te veel daaraan peuter nie want die verkiesing is voor die deur.

Hy sê daar is geen rede om te dink dat dit in die tweede helfte van 2019 beter sal gaan op ekonomiese gebied nie, want die Rand is twyfelagtig, goudmyne wankelrig weens die kragvoorsiener se beurtkrag, en dit bevorder die moontlikheid van groter werkloosheid, wat weer beteken dat minder persoonlike belasting gevorder word.

Met die verwagting dat brandstof duurder gaan word, benadeel dit die verbruiker direk, en word verbruikersgoedere daardeur geraak, wat onwenslik is terwyl die resessie voortduur.

Sy raad is dat konserwatiewe besteding die enigste maatreël is wat die indiwiduele verbruiker kan toepas om sy huishouding te beskerm teen ’n verhoogde skuldlas.