Beurtkrag verwoes Suid-Afrika

Die vyf dae van beurtkrag van verlede week het ’n spoor van verwoesting gelaat in Suid-Afrika, en behoort ’n duur les te wees vir die Ramaphosa regering.

Dit was ’n week waarin transformators ontplof het, waartydens toerusting in woonhuise en nywerhede beskadig is, substasies is bykans onherstelbaar beskadig en die swak ekonomie is nog verder verswak met minstens R10 miljard.

Die beurtkrag het Vrydag sy eindpunt bereik toe Eskom weer diesel gekry het om sy opwekkers aan die gang te sit wat vir dae lank onbenut gestaan het omdat daar nie brandstof is nie.

In Johannesburg was minstens tien woonbuurte vir ure sonder krag, en dit het daartoe gelei dat die watervoorsiening ook gestol het, en duisende mense radeloos gelaat, maar ook elders in die land was daar chaos wat in die media gerapporteer is.

Of die beurtkrag nou finaal af is, word egter deur deskundiges betwyfel aangesien dit nog lank gaan neem voordat alles weer terugkeer na ’n “byna normale” tydperk.

Die koms van ’n Italiaanse span om Eskom uit sy gemors te red, word met groot verwagtinge deur die ANC ingewag, maar kenners sê die uitkoms sou veel gouer en meer volhoubaar gewees het as die kundiges van die land gevra is om die taak aan te pak.