Bankiers kelder Bosasa finaal

Die twee banke, Absa en ENB het beide bevestig dat hulle die kontroversiële African Global Operations, voorheen bekend as Bosasa, se rekeninge sluit.

Die maatskappy het Maandag bevestig dat die twee banke afsonderlik besluit het om die uiters omstrede maatskappy se rekeninge te sluit.

Klaarblyklik het die bankiers die stap geneem nadat die maatskappy se wanpraktyke op die lappe gekom het en gevolglik ’n groot sake risiko vir hulle geword het.

In ’n verklaring erken Bosasa dat die maatskappy gelikwideer gaan word, wat volgens waarnemers die banke se optrede logies maak.

Bosasa beweer glo dat die banke se benadering die hoofrede is waarom die maatskappy sy deure sal moet sluit, maar voeg by dat die maatskappy nie weens finansiële tekorte of bankrotskap sluit nie.

Die meer as 4,000 werkers sal direk geraak word deur die sluiting, en die onbekende aantal kontrakteurs wat gebaat het by die korrupsie, se onwettige “lewensaar” is ook vernietig.