VSA regering se “afsluiting” eindig

Die Amerikaanse Senaat het ooreengekom om die “afsluiting” van die regering te beëindig sodat die meer as 800,000 werkers kan terugkeer werk toe en ook hulle salarisse kan ontvang.

Die afsluiting wat reeds 35 dae duur, is die langste wat nog in die Amerikaanse politiek beleef is nadat die Republikeine en Demokrate nie ooreenkoms kon bereik oor die oprigting van ’n grensmuur nie.

Die ooreenkoms om die afsluiting te beëindig, is egter ’n tydelike maatreël en duur slegs tot 15 Februarie, wat meebring dat die twee partye tot ’n finale ooreenkoms moet kom gedurende die tyd.

Daar is egter nog geen hoop vir President Trump dat die Demokratiese Party gaan voldoen aan sy eis om $5,7 miljard beskikbaar te stel vir die oprigting van ’n muur op die grens met Meksiko nie.