Trump is verplig om Staatsrede uit te stel

President Donald Trump is verplig om sy beplande Staatsrede uit te stel wat op 29 Januarie sou plaasvind, en kan dit eers lewer na die regering se “afsluiting” beëindig is.

Die voorsitter van die Huis van Afgevaardigdes, Nancy Pelosi, van die Demokrate, het besluit dat die president nie sy rede mag voer nie, en eers moet toesien dat die “afsluiting” beëindig word.

Die linkse Demokratiese Party in die VSA beheer tans die Huis van Afgevaardigdes, en ’n stryd tussen die president en die Huis se voorsitter het gelei tot verskeie besluite wat beide kampe benadeel.

Die Demokrate weier om die $5,7 miljard beskikbaar te stel vir die grensmuur aan die grens met Meksiko, en dit het tot die “afsluiting” gelei wat 800,000 werkers nou tuis laat sit met verpligte verlof en geen betaling nie.

Hierdie “afsluiting” van vanjaar is die langste wat dit ooit geduur het, en die twee partye beskuldig mekaar daarvan dat hulle verantwoordelik is vir die ongewenste toestand.

Foto – President Trump en Nancy Pelosi