Motor rubriek – Mitsubishi Triton 2.4 Di-D

Van ons ouer lesers sal onthou toe die eerste Colt motor in die vroeë 70 jare in die land op ons paaie verskyn het. Dit het bekend gestaan as die Mitsubishi Colt Galant en dit was verkrygbaar as ‘n sedan of as ‘n luikrug motor. Dit was ‘n betroubare en baie gewilde motor.

Met die aankondiging dat die nuwe Triton binnekort beskikbaar gaan wees kan daar uitgesien word na ‘n voertuig wat dit baie goed van sy taak gaan kwyt. Na verneem word kan dit in die eerste kwartaal van 2019 beskikbaar wees. Volgens foto’s in die pers en beskrywings gaan dit ‘n bakkie wees wat die moontlikheid inhou om baie gewild te word – en met reg ook want daar is aansienlik verander aan die binne en buite aansig.

Die grootste verandering aan die buitekant is die voorste aansig en die totale buite aansig staan bekend as die Dynamic Shield konsep. Chroom afwerking aan die sierrooster is vanaf die bokant by die nuwe hoofligte af gebring na onder die parkeerligte en rigting aanwysers. Die enjinkap skep die indruk dat die bakkie hoog bokant die pad oppervlakte staan. By die onderste lug inlaat is daar ook chroom afwerking wat die prentjie netjies voltooi. Sensors op die voorste stamper sorg dat daar nie te naby aan die agterkant van ander voertuie geparkeer word nie. Die bekende drie ster kenteken is bokant die naam Triton op die luginlaat na die verkoeler aangebring.

Die wielboë is uitgebou en ses speek, allooi wielnawe met die drie ster kenteken wat op die middelste gedeelte van die wiel gemonteer is, rond die prentjie verder af. Chroom deur handvatsels word gebruik om die deure mee oop te maak en dan is die boonste gedeelte van die deur raam is met ‘n mat swart afwerking voltooi. Die agterligte is meer opsigtelik en is duidelik sigbaar selfs van die kant van die voertuig af. Om dit maklik te maak om in die voertuig in te klim, is daar ‘n sy-trap gemonteer.

Aan die agterkant van die stuurwiel is die ratbeheer lepels en die duidelik leesbaar instrumente is regvoor die bestuurder gemonteer met die aanraak skerm wat binne maklik bereikbare afstand vir die bestuurder. Leer afwerking is aan die orde van die dag en temperatuur beheer van die lugversorger werk outomaties. Die middelste konsole is eenvoudig dog duursaam afgewerk.

Die veiligheids aspek van die voertuig het aandag ontvang en daar is voorsiening gemaak vir lugsakke, ABS remme, stabiliteit beheer, ‘n ongeluk beheer stelsel blinde kol waarskuwings stelsel en nog talle ander handige beheer en waarskuwings stelsels.

Die nuwe Mitsubishi Triton sal in SA aankom met die bekende 2,4Di-D turbo diesel kragbron en dit sal gekoppel wees aan of ‘n vyf spoed outomatiese ratkas of ‘n ses spoed handratkas. 430 Nm wringkrag sal beskikbaar wees by 2500 o.p.m. en die krag voorsiening sal 133 kW wees.

Ondersteuners van die Mitsubishi kan uitsien na ‘n interessante voertuig en dit beloof om, soos in die verlede, te voldoen aan al die nodige vereistes.