Motor rubriek – Isuzu D-Max

Sedert die eerste verskyning van Isuzu bakkies op ons land se paaie, was dit ‘n baie gewilde maar ook betroubare bakkie. Wanneer daar terug gedink word aan die eerste KB reeks en die KB daarna en die miljoene kilometers wat dit afgelê het sedert hulle eerste bekendstelling, dan kan ‘n mens verstaan hoekom daar so baie verkoop is. Dit was veral gewild onder die kommersiële boere maar het ook bekendheid verwerf vir gebruik in ons land se dorpe en stede.

Die KB gedeelte van die naam is weggelaat met die bekendstelling van die heel nuutste Isuzu. Dit staan nou bekend as die Isuzu D-Max.

Daar is verskeie veranderings aangebring aan die heel nuutste model waarvan een van die mees opvallende is seker die verandering wat aangebring is aan die sierrooster en die neus gedeelte. Daar is aansienlik meer chroom gebruik op die verkoeler gedeelte van die sierrooster en die neus gedeelte en die hoofligte wat skuins na onder gebou is, vorm ‘n eenheid. In die onderste gedeelte, aan die buite kant is die kolligte in die voorste stamper gemonteer. Aan die agterkant gaan die agterligte om die hoeke van die bakwerk met die Isuzu naam wat aan die linkerkant onder op die agterste deksel verskyn met die D-Max naam onder dit. Die agterste en voorste modderskerms is uitgebou om beter wiel artikulasie te verseker en die allooi wielnawe rond die buite prentjie verder af.

In totaal is daar 30 verskillende modelle beskikbaar en dit wissel tussen “werkesels” en luukse modelle waarvan die 300 LX outomaties die mees luukse voertuig is. Die pryse van die verskillende modelle wissel tussen R332 500 en R606 400.

Die verskillende modelle wissel tussen enkel en dubbel kajuit modelle en die binne afwerking is van hoogstaande gehalte en met die instrumentpaneel wat regvoor die bestuurder gemonteer is, is alle toerusting binne maklike bereikbare afstand van die bestuurder. ‘n Nuwe, agt duim, kleur, aanraak skerm is gemonteer en dit bevat inligting betreffende die tru kamera, blou tand handevry telefoon en ook ‘n audio werk verrigting. Op die 3-speek stuurwiel is daar skakelaars aangebring wat van die toerusting beheer.

Die rathefboom vir die outomatiese sowel as die standaard model, pas gerieflik in die palm van die linkerhand en die rat skakeling vind sonder moeite plaas. Inteendeel, die nuwe ses spoed outomatiese ratkas wat in die luukse model gepas is, se oorskakeling vind so glad plaas, dat dit bykans onmoontlik is om dit waar te neem.

Verskillende kragbronne word gepas waarvan die 2,5 liter en 3,0 liter, turbo aangejaagde, vier silinder diesel seker die bekendstes is, is onveranderd. Die werkverrigtinge daarvan is van bostaande gehalte en veral die 3,0 liter se wringkrag sorg dat dit ‘n swaar vrag moeite vry verskuif word. Op die snelweg en ander paaie is dit in sy element maar moenie die 2,5 liter kragbron gering skat nie, dit kwyt dit baie goed van sy taak.

Goeie nuus vir Isuzu aanhangers is dat Isuzu en 4×4 Mega World ‘n ooreenkoms aangegaan het dat bykomende toerusting op ‘n nuwe Isuzu gepas kan word en die die bestaande waarborg daardeur gedek word. Dit beteken dat wanneer ‘n nuwe voertuig aangekoop word kan die toerusting wat verlang word gepas word selfs voor die voertuig die handelaar verlaat en die koste daaraan verbonde kan by die prys ingesluit word. Die bykomende koste word selfs in ‘n huurkoop ingesluit. ‘n Old Man Emu veerstelsel kan byvoorbeeld gepas word op aanvraag.

Hierdie is inderdaad ‘n voertuig van formaat en of dit op die plaas op grondpaaie, in die veld of op die snelweë van ons land gebruik word, dit sal verseker ‘n aanwins wees vir die eienaar. U kan dus gerus u naaste Isuzu handelaar gaan besoek en u vergewis van die bakkie se bruikbaarheid.