Motor rubriek – BMW i8 Roadster

Sedert BMW se toetrede tot die elektries, ondersteunde gedrewe motor mark, is daar goeie vordering gemaak.

Die heel nuutste weergawe van die i8 Roadster, trek oral aandag waar dit beweeg. Veral wanneer iemand in of uit klim en die groot deure swaai opwaarts om oop of toe te maak. Wanneer die deure toe is vorm dit ‘n eenvormige deel met die elegante lyne aan die buitekant en om die buite aansig verder af te rond is 20 duim, swart geverfde allooi wielnawe gepas wat ewe netjies in die wielboë in pas om deel daarvan te vorm.

Wanneer die wegvoubare dak weggevou is en die binnekant van die motor is sigbaar, dan word die leer afwerking van die binnekant meer sigbaar en dit getuig van BMW se ingenieurs se goeie ontwerp en samestelling. In plaas van om bykomende agter sitplekke te pas, is daar kompartemente aangebring waarin goedere gepak kan word. Die bak struktuur is versterk en dit verseker dat die hele voertuig meer stewig is. Dit het egter teweeggebring dat die nuwe motor 104 kg swaarder is.

Wanneer die dak weggevou is, is hierdie ‘n regte “wind” in die hare motor maar met die bouvorm van die kajuit is die ongerief van die wind beperk tot die minimum en dit sorg vir ‘n aangename, sorgvrye motor rit en kan ‘n mens die natuur daar buite tenvolle geniet. Alle toerusting wat normaalweg deel uitmaak van BMW motors is gepas en dit sluit in radio, lugversorger, stuurwiel met beheerskakelaars, lugsakke ensovoorts.

Die werkverrigting sorg vir ‘n aangename verrassing want tussen die elektriese motor en die 1,5 liter, turbo aangejaagde petrol is dit instaat om 275 kW krag te voorsien met ‘n wringkrag van 570 Nm. Volgens die vervaardiger is die brandstof verbruik 2,1 l/100 km wat nie te versmaai is nie en wanneer die battery vol gelaai is, is dit instaat om 50 km af te le deur slegs gebruik te maak van die battery krag. Volgens die vervaardiger is dit instaat tot ‘n maksimum snelheid van 250km/u. Die bouvorm sorg dat die wind weerstand minimum is en die drukvlerk op die agterkant is weer ‘n hulp vir die padgedrag.

Padgedrag is soos met alle BMW produkte van hoogstaande gehalte en in die dorp/stad of op die oop pad, dit is in sy element. ‘n Mens moet egter versigtig wees want dit is maklik om die snelheidsperk te oorskrei.

Die remme is uiters doeltreffend en daarvoor sorg die ABS remme met EBD hulp. Die rem skywe se grootte is geventileerde, 340 mm skywe op die voorwiele en 330 mm geventileerde skywe op die agterwiele. Bridgestone Potenza S001 bande is gepas en die grootte van die voorwiele se bande is 215/45 R20 en die agterwiele se band grootte is 245/40 R20.

Hierdie is ‘n motor vir die fynproewer en indien u ‘n sportmotor wil aanskaf kan u gerus u naaste BMW handelaar gaan besoek en dit vir ‘n toetsrit neem.