Duitsland soek witvoet by VSA

Die uitsprake van Kanselier Merkel van Duitsland tydens haar rede by die Davos Ekonomiese Forum, is nie oral goed ontvang nie.

Haar negatiewe opmerkings oor nasionalisme en konserwatisme het menige leier met wrewel gevul en verskeie lande het dit oorweeg om hulle afvaardigings terug te stuur.

Later het die Duitse Minister van Buitelandse Sake, Heiko Maas, erken dat Duitsland nie sonder die goeie samewerking van die VSA kan wees nie.

Hy het aangedui dat hy met ’n afvaardiging na Amerika wil gaan om die afstand wat tans heers tussen die twee lande, uit die weg te ruim.

Waarnemers sê dit is ietwat in stryd met Merkel se arrogante houding, terwyl sy reeds bewus is daarvan dat sy haar sterk invloed en internasionale aansien verloor het toe sy ’n koalisie-regering moes vorm met haar party se politieke vyand van meer as 50 jaar.

Minister Maas wil ’n “nuwe bedeling van samewerking” met die konserwatiewe regering van president Donald Trump probeer reël tydens sy beoogde besoek.