Bankrot SABC betaal nie salarisse

Die sukkelende SABC wat reeds vir jare afhanklik is van staatshulp om staande te bly, het glo sy personeel in ’n reuse verleentheid gedompel deur nie hul salarisse te betaal nie.

Personeel het met skok besef dat die SABC nie hulle salarisse inbetaal het wat Dinsdag op hulle rekenings moes wees nie.

Blykbaar het die Broadcasting, Electronic, Media & Allied Workers Union ’n kort verslag gestuur om te bevestig dat hulle kennis ontvang het dat geen betalings gemaak is nie.

’n Personeellid het glo later aan die media bevestig dat hulle nie salarisse ontvang het nie.

’n Woordvoerder van die SABC het glo gesê ’n “tegniese probleem” was by die bank ondervind, maar kenners meen die tegniese probleem was waarskynlik die feit dat die SABC nie oor die fondse beskik het om betalings te maak nie.

’n Personeellid het glo later gesê dit raak nou ’n berekende risiko om vir die SABC te werk.

Na dringende samesprekings is die salarisse glo gister inbetaal na personeel rekenings, met die verskoning dat die fout by die bank geleë is.