Al meer vroue wil vlug uit Saoedi

Die opspraakwekkende voorval van Rahaf al-Qunun, die jong vrou van Saoedi-Arabië wat asiel gekry het en na Kanada kon vlug, het die waarheid van ander vroue na die oppervlakte gebring.

Rahaf al-Qunun het terwyl sy reeds buite Saoedi was, aan die media gesê sy kan nie terugkeer na die land nie want sy vrees vir haar lewe.

Dit is egter nie die enigste geval nie, want nou wemel dit op die sosiale netwerk van vroue wat wil wegkom uit Saoedi-Arabië.

Volgens ’n menseregte organisasie is daar reeds vir etlike jare ’n weerstand by vroue in die land wat die risiko moet trotseer om uit die land te vlug terwille van hulle veiligheid.

Dit blyk dat nie iedere vrou so gelukkig is om buite die landsgrense te kom en dan ’n noodkreet uiter nie.

Rahaf al-Qunun was gelukkig om na die buiteland te kon reis sonder toestemming van haar ouers, en daarmee verseker dat sy na Kanada kon verhuis, maar sulke gevalle is in ’n minderheid.

Ander vroue sit in vrees dat hulle met hulle lewens kan betaal indien hulle sou laat deurskemer dat hulle die land wil verlaat.

Rahaf al-Qunun se vrees vir haar lewe is omdat sy argitektuur wil studeer aan ’n universiteit, en sy wil Engels bemeester, maar dit word haar nie in haar land gegun nie, en so is daar honderd ander jong vroue wat dieselfde ideale koester, maar dit nie toegelaat word in hulle land nie.