Zuma moet miljoene opdok

Die Hooggeregshof in Pretoria het Donderdag beslis dat Jacob Zuma self verantwoordelik is vir sy regskoste.

Dit bring mee dat Zuma verantwoordelik is vir meer as R16 miljoen wat reeds deur belastingbetalers vereffen is, maar nou terugbetaalbaar is.

Die hof het voorts bepaal dat die staatsprokureur sal omsien om die berekenings te doen van die presiese bedrag wat betaal moet word.

Die hof het ook bevind dat die ooreenkoms wat Zuma sowat ’n dekade gelede met die presidensie aangegaan het, onwettig en ongeldig is.

Die verwagting is dat Jacob Zuma sal appelleer teen die uitspraak, en kort na die hofsitting het sy regsverteenwoordiger gesê ’n aansoek om appèl sal gereedgemaak word.

Die hofsaak is dur die opposisiepartye begin, en word allerweë beskou as ’n nekslag vir die afgesette president.