TLU SA bekommerd oor plaaswerkers

Mnr Drickus Botha, Streekbestuurder van TLU SA Noord streek sê in ’n mediaverklaring dat daar kommer bestaan oor die plaaswerkers se veiligheid.

Hy sê dit het die afgelope tyd duidelik geword dat veral plaaswerkers ook toenemend geteiken word in plaasaanvalle. Dit is heelwaarskynlik omdat die misdadigers vermoed dat die slagoffers reeds hul jaarlikse bonusse ontvang het en dat daar gevolglik aansienlik meer kontant in besit van plaaswerkers is.

“Landbouers word aangemoedig om werkers te waarsku om nie hul bankrekeninge leeg te trek soos wat by talle wel die geval is nie”, versoek die Adjunk President van TLU SA en Voorsitter van die Veiligheidskomitee, mnr Henry Geldenhuys.

“Dit is belangrik dat die voordeel van ‘n jaar se harde werk nie onklaar gemaak word deur baie kontant byderhand te hou wat as lokaas vir ongure geselskap met misdadige intensies kan dien nie”, aldus mnr Geldenhuys.

“Terselfdertyd herinner ons landbouers en hul gesinne om nie waaksaamheid te verslap wanneer daar sosiaal saam met familie, bure en vriende verkeer word nie. Tè veel lewens en ernstige beserings was in die verlede die gevolg van verslapte waaksaamheid tydens die feesseisoen”.