Theresa May hou dalk verkiesing

Die onmin onder Britse parlementslede oor die koers wat ingeslaan moet word aangaande die verhouding met die Europese Unie word ’n nog groter problem vir die Konserwatiewe Party regering en die Britse premier.

Dit blyk uit regsmenings wat die afgelope week na vore gekom het dat Eerste Minister Theresa May nie kan terugkeer na die EU om die onderhandelings te heropen nie.

Sy kry ook nie ’n meerderheid in die parlement om haar ooreenkoms met die EU te steun nie, en dit laat Brexit in die gevaarsone van algehele kansellasie van die ooreenkoms.

Meningsvormers en politieke analiste is van mening dat dit die premier geen ander keuse laat as om ’n vervroegde algemene verkiesing te hou nie.

Dit kan die einde van haar tyd in die kantoor van die Britse Eerste Minister beteken, en selfs die einde van die Konserwatiewe Party se regering.

Die ernstige verdeeldheid wat tans onder die Britte heers, word beskou as die ergste in meer as 50 jaar, en sommige meen dit is die grootste in die afgelope 100 jaar.

’n Voormalige Britse parlementslid beskou dit as die grootste politieke krisis waarin Brittanje hom ooit bevind het, veral omdat die Arbeidersparty ook in hulleself verdeeld is oor hulle leier, en oor die koers wat gevolg moet word met die Europese Unie lidmaatskap.