Motor rubriek – Renault Duster

Alle aanduidings is daar dat die heel nuutste Renault Duster nog meer gewild gaan wees as die vorige Duster.

Dit het ‘n opkikkering ondergaan en hierdie kan een van die gewildste sportnuts voertuie op ons land se paaie word.

Verskeie veranderings het plaasgevind. So is daar veranderings aan die buitekant van die bakwerk aangebring. Dit lyk meer ellegant veral wanneer die vierkantige agterligte op ‘n afstand beskou word. Aan die voorkant is daar veranderings aan die sierrooster aangebring en die Renault kenteken is meer prominent in die middel van die sierrooster gemonteer. So is dit in meer verskillende kleure beskikbaar waarvan oranje een is.

Die binnekant is ook nie agterweë gelaat nie. Die binne isolasie is aansienlik verbeter en die geselskap tussen vriende kan baie meer gemoedelik verloop want die binnekant is so stil soos ‘n huis se sitkamer. Dit bring ook mee dat die musiek wat deur die radio verskaf word, van ‘n hoë gehalte is. Die binne-afwerking is van ‘n hoër standaard en die plastiek wat gebruik is, is nog steeds hard maar is byvoorbeeld beter gemonteer. ‘n Belangrike aspek is die feit dat daar meer plek is in die voertuig en ‘n gesin van vier met hulle bagasie kan met gemak binne in die voertuig pas. Selfs vir die branderplank ryers is daar plek vir die branderplank.

Van die basiese model tot by die duurste model is die toerusting bykans dieselfde. Veiligheid is van ‘n hoë standaard en gerief is ook nie agterweë gelaat nie. Daar is voor en agter meer as genoeg plek vir die “lang” been passasiers en met die verskillende verstellings van die sitplekke kan ‘n gemaklike sit posisie ingeneem word.

Daar is vyf verskillende modelle beskikbaar waarvan die DCI Prestige EDC 4×2 model die mees luukse model is. Al vyf die modelle se padgedrag is van hoogstaande gehalte en alhoewel ‘n mens nie baie daarvan hou om dit op ‘n grondpad te gebruik nie is dit selfs daar opmerksaam hoe goed die padgedrag is. Op die openbare paaie, natuurlik sonder slaggate is die Renault in sy element en kan dit werklik geniet word.

Sover as die kragbronne aanbetref is daar drie verskillende enjins beskikbaar. Die petrol en diesel kragbronne is oorgedra van die vorige modelle maar ‘n nuwe diesel kragbron het by gekom.

Dit is dieselfde 1,5 liter kragbron maar daar is opgradering aan gedoen en dit voorsien 66 kW krag en 210 Nm wringkrag. Die 1,5 liter, turbo aangejaagde, vier silinder diesel is werklik “pure plesier”. Die krag is 80 kW en die wringkrag is 250 Nm. Wanneer dit in berge wêreld gebruik word, kom dit eintlik ten volle tot sy reg. Met die hoë wringkrag wat beskikbaar is kan ‘n mens ‘n kronkelende bergpas met gemak aanpak sonder om jou te bekommer hoe jy daar gaan uitkom.

‘n Duster wat baie gewild behoort te wees is die 4×4 outomatiese model want dit is geskik vir bykans enige terrein. Wat dit nog meer aantreklik kan maak is omdat baie ruim is en die sig na buite onbeperk is. Dit is die ideale voertuig in 4×4 formaat vir hengelaars en terselfdertyd is dit die ideale voertuig om mee die wildtuin te besoek. Dit het ‘n hoë grondvryruimte en dit kan teen kort en styl hellings uit beweeg.

Dit is beskikbaar met ‘n 5 jaar/150 000 km meganiese waarborg en ‘n 6 jaar roes weer waarborg.

Met bogenoemde in gedagte kan u gerus u naaste Renault handelaar besoek en dit vir ‘n toetsrit neem of dit op u inkopie lys plaas sou u so ‘n voertuig wil aanskaf.