Motor rubriek – Lexus ES250 EX

Die Lexus staan sy skoene behoorlik vol in die luukse motor klas. In besonder die ES 250.

Die afwerking daarvan getuig van goeie smaak en die bak vorm van hierdie sportnuts voertuig trek dadelik aandag waar die motor dit ook al op ons land se paaie bevind.

Die Lexus ingenieurs het dit goed gevind om dit op die GA-K onderstel van die Camry te monteer en deur dit te doen is verseker dat dit ‘n motor is met gerief vir die insittendes. Daar is m.a.w. voorsiening gemaak vir gemak, gerief en genoeg plek vir lang en kort bene. Dit is langer, breër en hurk nader aan die pad oppervlakte as die model wat dit vervang. Die dak se profiel na agter skep amper die indruk van ‘n luikrug motor want dit vorm deel van die agterligte wat dan weer inskakel by die kattebak se deksel. Die grootte van die kattebak is 325 liter en gholfspelers se sak met golf stokke kan maklik inpas.

Die sierrooster aan die voorkant vorm deel van die hoofligte en wat inskakel by die voorste stamper en die enjinkap. Van vooraf kan die ES en die LS modelle eintlik met mekaar vergelyk word want die een is ‘n uitvloeisel van die ander en vul mekaar aan. Die 17 duim, gespeekte, allooi wielnawe rond die buite prentjie heeltemal af.

Wat opmerklik is, is wanneer ‘n mens in die voertuig inklim dat die kajuit meer luuks voorkom as voorheen.

Die leer bedekte sitplekke trek dadelik die aandag en so ook die ander toerusting. Die voorste sitplekke is elektries verstelbaar en ‘n gemaklike sit posisie kan maklik ingeneem word. Inteendeel, “sitkamer gerief” is aan die orde van die dag. Die sy en rugsteun van die sitplekke sorg dat, wanneer die lang pad aangepak word, kom ‘n mens eintlik uitgerus aan die eind van ‘n lang rit by jou bestemming aan. Die sitplekke is verhit en dit lei daartoe dat die gerief werklik gebruik kan word.

Al die binne toerusting is binne maklike bereik en die drie speek stuurwiel met al die verskillende beheer skakelaars sorg verder vir die nodige gerief. Al die instrumente is rég voor die bestuurder gemonteer en is maklik leesbaar deur die boonste gedeelte van die stuurwiel.

Die aanraakskerm is verbruikers vriendelik en daarmee kan al die verskillende funksie maklik bedien word. Vir verdere gerief is ‘n tru kamera geïnstalleer en die hoofligte maak gebruik van LED beligting.

Die kragbron wat gebruik word in die Lexus is Toyota se 2,5 liter, Dynamic Force Series A25A-FKS, dwars gemonteerde, vier silinder, petrol enjin en word daar gebruik gemaak van direkte, elektroniese brandstof inspuiting om die brandstof aan die kragbron te verskaf. ‘n Dubbel, oorhoofse nokas sorg dat die vier kleppe/silinder, hulle werk doen. 152 kW is beskikbaar tussen 6600 en 6800 o.p.m. en die maksimum wringkrag van 243 Nm is beskikbaar tussen 4000 en 5000 o.p.m. ‘n Agt spoed outomatiese ratkas sorg vir die krag oorbringing na die voorwiele en die oorskakeling daarvan vind seepglad plaas. Soveel so dat dit bykans onmoontlik is om dit agter te kom wanneer die oorskakeling plaasvind. Na verneem word is die brandstofverbruik volgens die vervaardiger, 6,6 l/100 km.

Vir die remstelsel word geventileerde skywe van 295 mm op die voor wiele gebruik en op die agter wiele word 281 mm soliede remskywe gebruik. ‘n ABS remstelsel met EBD en EBA ondersteuning sorg dat die voertuig met veiligheid tot stilstand kan kom.

Volgens die vervaardiger versnel dit van 0 tot 100 km/u in 9,2 sekondes en die topsnelheid is 210 km/u. Bogenoemde is akademies van aard maar dit is goed om te weet waartoe die voertuig instaat is.

Hierdie is ‘n motor van formaat en indien u dit beoog om ‘n luukse motor aan te skaf, kan u dit gerus gaan toets bestuur en u vergewis van wat beskikbaar is in die mark