Motor rubriek – Ford Ecosport 1,0T Trend Automatic

Die Ford Ecosport is sekerlik een van die gewildste Ford produkte op ons land se paaie en daar is vier verskillende modelle beskikbaar. Waar jy jou ook al mag bevind, daar is altyd een in die nabyheid.

Die heel nuutste een het deur geloop onder die “chirurgh” se mes en daar het verskeie veranderings plaasgevind. Om mee te begin is die basis model wat sedert 2013 in ons midde is, se bak verleng met 315 mm, dit hurk 20 mm nader aan die pad oppervlakte en die grondvrye hoogte is verhoog na 206 mm. Met die dat die bakwerk verleng is, beteken dit dat daar meer beenspasie is en jy kan dus ‘n gemakliker sit posisie inneem.

Die brandstofhouer, die wiel groottes, die draai sirkel, remme en veerstelsel bly onveranderd terwyl die lugversorger van die Trend model nog steeds nie outomaties werk nie. Die bagasie ruimte, sonder dat die sitplekke weggevou word is 333 liter en dit vergroot na 705 liter wanneer die sitplekke weggevou word.

Die bestuurder het die gerief dat die stuurwiel hoogte verstelbaar is en die reik afstand kan ook verander word terwyl daar verskeie skakelaars op die stuurwiel gemonteer is om van die toerusting te beheer. Al die duidelik leesbare instrumente is reg voor die bestuurder gemonteer en kan maklik deur die boonste gedeelte van die stuurwiel gelees word. Die sitplekke is met materiaal bedek, daar is ISOFIX monteer punte en binne liggies is op sentrale plekke in die voertuig gemonteer. ‘n Sentrale sluitstelsel sorg dat wanneer die voertuig in beweging kom, word al die deure gesluit en ‘n volledige stel veiligheidsgordels sorg vir die veiligheid van die insittendes.

Om beserings te beperk wanneer daar in byvoorbeeld ‘n botsing te staan kom, is daar sewe lugsakke op strategiese plekke gemonteer. Een so plek is die lugsak wat op die hoogte van die bestuurder se knieë gemonteer is. ‘n Verdere veiligheid aspek is die gebruik van Thatcham deurslotte wat verseker dat die deure behoorlik sluit.

Aan die voorkant van die voertuig is daar ook veranderings aangebring. Die kolligte is deel van die voorste stamper en die bekende ovaal kenteken van die “Fordtjie” is in die middel van die sierrooster gemonteer. Die nuwe voertuig se allooi wiel vellings se patroon is verander en dit is meer opmerksaam wanneer die voertuig van die kant bekyk word. Om te verseker dat die banddruk korrek is, is daar ‘n banddruk monitering stelsel in plek wat die bestuurder waarsku indien die banddruk verlaag.

Daar word twee verskillende tipes ratkaste gebruik naamlik ‘n outomatiese ratkas en ‘n standaard handratkas. Hierdie ratkaste is aan ‘n 999 kub. sentimeter, drie silinder, dubbel oorhoofse nokas, 12 klep, turbo petrol kragbron gekoppel en die krag deur die drie silinder enjin verskaf is 92 kW by 6000 o.p.m. en die wringkrag is 170 Nm tussen 1400 en 4500 o.p.m. en dit word na die voorwiele oorgedra. Na bewering neem die 0 tot 100 km/u versnelling 12,7 sekondes en die maksimum snelheid is 181 km/u. Volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik 7,9 l/100 km.

Aan die agterkant is daar duidelik, sigbare agterligte gemonteer en die bagasie deksel maak na die kant toe oop en ‘n vol grootte noodwiel met ‘n plastiese skerm deksel, is teen die bagasie deksel gemonteer.

Hierdie is die ideale sportnuts voertuig vir moeder en sy kan dit gebruik om die kinders skool toe en terug te neem en terselfdertyd om mee inkopies te gaan doen. M.a.w. indien u in die mark is vir hierdie tipe voertuig, kan u dit gerus op u inkopie lys plaas en dit vir ‘n toetsrit neem.