Motor rubriek – BMW M3 CS M-DCT

‘n M3 BMW was nog altyd die droom motor van enige BMW ondersteuner en wanneer daar gedink word aan ‘n M3 dan gaan ‘n mens se gedagtes onwillekeurig terug na die eerste M3’s wat in die motor mark verskyn het.

Die mees gesogte motor was die twee deur model en dan moes die kleur geel gewees het. Wie kan die bekende klank van die reguit ses silinder kragbron vergeet – veral wanneer ‘n vry vloei uitlaatstelsel gepas was.

Wanneer ‘n mens aan die agterkant van die M3 CS M-DCT kom is een van die eerste dinge wat opgemerk word behalwe die twee agterligte wat om die kant van die motor pas, die twee stelle dubbel uitlaat pype wat bykans in die middel van die motor uitsteek asook die M3 CS kenteken op die die regterkant van die bagasiebak deksel. In die middel van die kattebak deksel is die bekende blou en wit BMW kenteken gemonteer wat jou verseker dat jy na die regte motor se agterkant kyk want op die deksel is ‘n Gurney drukvlerk gemonteer wat weer ‘n eenheid vorm met die voorkant van die motor.

Die neus gedeelte van die motor wat deel vorm van sierrooster bevat die luginlate en dit is behulpsaam om die voorste remme te verkoel. Die niertjie vormige sierrooster bevat die blou en wit kenteken van die BMW.

Die enjinkap is gebou met uitgeboude gedeeltes om al die toerusting wat in die enjin kompartement gemonteer is, te kan huisves. Om 25% gewig te bespaar op metaal komponente is die enjinkap en dak van ‘n kombinasie van “carbon – fibre” en plastiek gebou.

Aan die voorkant is 19 duim allooi wielnawe gepas en agter 20 duim allooi wielnawe en hulle is geskoei met “semi – slick” Michelin Pilot Sport bande. In beide geval word dit binne in die bakwerk gehuisves op so ‘n manier dat dit eintlik ‘n eenheid vorm met die bakwerk.

Binne in die motor is daar voorsiening gemaak vir die bekende BMW gerief met leer bedekte sitplekke en met al die ander nodige toerusting op die instrumentpaneel gemonteer. ‘n Dik, leer bedekte, drie speek stuurwiel sorg dat daar behoorlik beheer oor die motor se stuurstelsel en ander toerusting uitgeoefen kan word want op die stuurwiel is skakelaars aangebring waarmee die verskillende funksies beheer kan word wat insluit die radio ensovoorts.

Die lekkerste word vir bykans laaste gebêre. Volgens statistieke wat vrygestel is, is hierdie eintlik ‘n “monster” op wiele in die kleine. Na verneem word is dit instaat om van 0 tot 100 km/u te versnel in 3,9 sekondes en die topsnelheid is 280 km/u. Die ses silinder in lyn petrol kragbron met ‘n dubbel turbo aanjaers voorsien 600 Nm wringkrag en die krag is 338 kW. Hierdie krag word oorgedra na die wiele deur middel van ‘n sewe spoed, dubbel koppelaar ratkas.

Om die wiele op die pad te hou word daar gebruik gemaak van ‘n veerstelsel wat bekend staan as ‘n “Competion Pack”. Dit sorg daarvoor dat die padhouvermoë van hierdie motor van hoogstaande gehalte is dit is dan ook ‘n motor vir die fynproewer.

Die van ons met “petrol” in ons are kan gerus hierdie motor vir ‘n toetsrit gaan neem en indien jou beursie dit toelaat, een aanskaf.