Kleinsee diamant stormloop

Die kusdorpie Kleinsee is oorstroom met onwettige diamant myners.  Die dorpie wat deel was van die De Beers groep was die afgelope tyd ‘n rustige kusdorpie met bykans geen plakkers nie.  Dit het die afgelope weke drasties verander met ‘n diamant stormloop van bykans  8 000 “myners”.

Grond wat gerehabiliteer is deur die myngroep is beset deur die myners wat plakkers hutte, tente en tydelike strukture opgerig het.  Nette en rehabilitasie materiaal is uitgetrek en gebruik as skuiling materiaal terwyl nuwe plantegroei op die duine uitgetrek is om seile en strukture te versterk.  Daar is voor die naweek bykans 8,000 “myners” getel en volgens berigte gaan dit aangroei tot 15,000.

Strand geriewe soos toilette en storte is oorgeneem as wasgeriewe en spoel geriewe.  Geen toilette bestaan nie en van die oop groewe word gebruik as toilette.  Die polisie weier om op te tree teen die plakkers aangesien hul met die dood gedreig is.

Die dorpie se mynhuise is onlangs verkoop en baie kopers vanuit die Transvaal en Oos-Transvaal het die geleentheid aangegryp om ‘n nuwe aftree plekkie te bekom.  Vyf-en Twintig gevalle van inbrake is in die afgelope tyd aangemeld en eiendomspryse het drasties gedaal.