Grensmuur: Trump hou voet by stuk

President Donald Trump van Amerika wil maar nie bes gee oor die grensmuur met Meksiko nie, en het gereageer op die Demokrate se uitlating dat hy die grensmuur moet vergeet.

Die Trump-administrasie sit met n ernstige probleem nou dat die Demokrate beheer oor die Huis van Afvaardigers  het en weier om geld beskikbaar te stel vir die grensmuur.

Dit het gelei tot die  “afsluiting” wat meebring dat duisende werkers nou verpligte onbetaalde verlof moet neem tot die twee partye n ooreenkoms bereik het.

Die Demokrate reken die president moet afsien van sy belofte om die muur op te rig, maar president Trump het in reaksie daarop gewaarsku dat die afsluiting kan voortduur tot die geld beskikbaar is vir die muur.

Dit blyk dat die Demokrate nou in die beskuldigingsbank staan by die kiesers nadat Trump gesê het die werkers se omstandighede word toegeskryf aan die onwilligheid van die Demokrate om die VSA te beveilig.