Deur my lens

As iemand wat nou nie juis veel erg het aan die Engelse van Brittanje nie, sal dit waarskynlik vreemd klink as ek erken dat daar tog ’n gevoel van simpatie bestaan vir die Britse Eerste Minister.

Sy het aangepak waarvoor haar voorganger, David Cameron, weggevlug het toe die Verenigde Koninkryk ten gunste van uittrede uit die Europese Unie gestem het in ’n referendum.

Nou sit Eerste Minister May met verdeeldheid onder haar eie kabinet en Torie-parlementslede, net soos wat die Arbeidersparty dieselfde probleem ondervind.

Geleerdes en geskiedkundiges reken die Britte is meer verdeeld as wat hulle was tydens die Tweede Wêreldoorlog toe ’n deel van die regerende party gekant was teen deelname aan die oorlog teen Duitsland.

Omdat sy reeds vasgestel het dat ’n stemming in die parlement oor Brexit, die einde van haar premierskap sal beteken, het sy dit uitgestel om eers weer met die Europese leiers te praat oor die moontlikheid van ’n nuwe of bygewerkte ooreenkoms.

Met enorme geduld en deursettingsvermoë het Theresa May egter getoon dat sy nie maklik skrik op die lyf gejaag kan word nie, maar of sy hierdie stryd gaan wen, word betwyfel, en het haar uitred as premier dalk aangebreek

Haar eie party se rebelle is op die oorlogspad teen haar, en hulle kyk rond oor wie in eie geledere haar opvolger kan wees, maar sy het loshand gewen in die mosie van wantroue wat hulle teen haar gehad het.

Klein Knapie