VSA beskuldig Sjina van diefstal

Woordvoerders van die Trump-administrasie in die VSA het aangedui dat ’n Sjinese spioen probeer het om handels geheime te steel van verskeie Amerikaanse instansies.

Washington beskou die laakbare optrede van Sjina as ’n refleksie van hulle regering se direkte betrokkenheid by ekonomiese vergrype.

Die Amerikaanse Departement van Justisie het verklaar dat ’n Sjinese spioen vervolg gaan word wat gepoog het om vertroulike ekonomiese aktiwiteite van die VSA na te speur en te steel.

Yanjun Xu, ’n senior intelligensie agent vir die Sjinese Ministerie van Veiligheid word daarvan beskuldig dat hy ’n vyf jaar projek gehad het om belangrike en groot handels firmas se aktiwiteite na te gaan en wou mense van die instansies oorreed om saam met hom na Sjina te reis onder die voorwendsel om ’n bydrae te lewer tot die land se universiteite, wat dan ook met sekere toekennings aan hulle sou vereer.

In ruil daarvoor moes die spioen dan voorsien word van “hoogs vertroulike inligting” deur sy “gaste” terwyl die toekennings eintlik niks anders is as nuttelose papier in ’n prentraam nie.

Politieke ontleders meen die optrede van Sjina het die verhouding tussen die twee lande verder vertroebel en die vooruitsig op ’n beter verhouding word uiters skraal.