Vlaams Belang is terug

Vlaams Belang is terug, sê die leier van die party, mnr. Tom van Grieken, na die naweek se plaaslike regeringsverkiesing.

Vlaams Belang was op ‘n stadium die derde sterkste party in Vlaandere, maar het in 2009 ‘n stewige terugslag gekry. Sedert die jong mnr. Van Grieken oorgeneem het, het die party egter weer nuwe lewe gekry, en in die afgelope naweek se verkiesing het dit duidelik geword dat die kiesers weer terugkeer na sy nasionalistiese beginsels.

Die ander Vlaamsgesinde party, N-VA, het ook vordering getoon, en mnr. Van Grieken het daarop gewys dat die twee partye in 20 munisipaliteite ‘n meerderheid het, en dat Vlaams Belang die N-VA die hand reik.

In die verlede het alle politieke partye die Vlaams Belang uit enige moontlike samewerking of mede-regering geweer deur middel van die gewraakte “cordon sanitaire”. Daar is nou egter hoop dat die “cordon” verbreek sal word.

Vlaams Belang het is sekere gebiede sy steun tot ver oor die 20% opgejaag met sy verkiesingsleuse “Eers ons mense”.

Foto: Mnr. Tom van Grieken, leier van Vlaams Belang, tydens die laaste groot byeenkoms voor die verkiesing