VF Plus wil volgende jaar terug slaan

Die tyd het aangebreek om ‘n streep in die sand te trek teen korrupsie en ‘n onbevoegde regering wat Suid-Afrika tot op die rand van ‘n ekonomiese afgrond gelei het.

Die VF Plus se verkiesingsboodskap aan die mense van Suid-Afrika is daarom dat daar nie langer gewag kan word om die land van ondergang te red nie.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het in die St. Georgespark-krieketstadion in die Oos-Kaap die boodskap gebring dat die situasie nie langer kan voortduur nie.

Die party se tema vir aanstaande jaar se verkiesing is daarom: “Slaan Terug. Nou of Nooit.”

“Suid-Afrika staan voor ekonomiese ineenstorting, misdaad is buite beheer en werkloosheid het ‘n kritieke kantelpunt bereik, veral onder die jeug waar dit reeds ‘n nasionale ramp is. Meer as 17 miljoen mense is afhanklik van maatskaplike toelaes, eiendomsreg word bedreig en dienslewering het tot ‘n stilstand gekom.

“Hierdie lysie, wat die direkte maaksel van die ANC is, raak by die dag langer, en dit is tragies aangesien Suid-Afrika ‘n pragtige land met pragtige mense is. Die bestanddele vir sukses is daar, maar die ANC-regering het hiermee slegs rampspoed gebring.

“Die VF Plus het nog altyd saam met die meeste welmenende Suid-Afrikaners sy hand uitgesteek om te help bou en welvaart te skep in die land, en is steeds bereid om saam te werk op die pad na voorspoed.

“‘n Draaipunt is nou egter bereik waar die ANC nie langer toegelaat kan word om op sy vernietigingspad voort te gaan nie, en die hand van versoening kan nie langer onvoorwaardelik uitgehou word nie, sê dr. Groenewald.

Kiesers het die volste reg om nou ‘n streep in die sand te trek en hom agter ‘n leier te skaar wat sê:

Slaan Terug teen onteiening sonder vergoeding.

Slaan Terug teen misdaad.

Slaan Terug teen korrupsie, wanbesteding en buitensporige belastings en tariewe.

Slaan Terug teen diskriminasie.

Slaan Terug teen swak dienslewering.