Turkye en Duitsland oorhoops met mekaar

Die Turkse president, Recep Tayyip Erdoğan, het klaarblyklik goeie bedoelings gehad om die lug te suiwer met Duitsland, maar dit blyk asof geen redelike ooreenkoms bereik kon word om die verhouding te verbeter nie.

Hierteenoor het die Duitse Bondskanselier, Angela Merkel, klaarblyklike “onoorkomelike verskille” gevind wat slegs ’n vriendelike glimlag kon bied aan die Turkse president.

Die optrede van die Turkse regering om ’n Duitse joernalis in hegtenis te neem en te vervolg, is maar een van die sake wat nie bevorderlik is vir ’n beter verhouding nie.

Volgens president Erdogan is die joernalis en ander intellektueles uit Duitsland almal terroriste, en dit het die moontlikheid van ’n beter verhouding met Duitsland, finaal gekelder.

Waarnemers het later opgemerk dat kanselier Merkel na afloop van die gesprek met president Erdogan, net kon sê “jammer, maar ons kan mekaar nie vind nie”.

Terwyl die samesprekings gevoer is, het groot getalle Duitse inwoners van Berlyn in ’n optog geprotesteer teen die Turkse president se teenwoordigheid in die land.