Stryd teen slimfoon verslawing

Waar jy ook al is, sien jy mense wat alles om hulle ignoreer met die oë gerig op die slimfoon om een of ander gebeure te aanskou. Dit gebeur dikwels dat mense so geïnteresseer is in die klein plastiese apparaat dat hulle nie tyd vind om ’n bekende se groet te beantwoord nie.

Net soos wat die TV destyds die naam gekry het van Totsiens Vriende, net so het die slimfoon mense ongeskik en traak-my-nie-agtig gemaak teenoor sy medemens.

Selfs diegene wat verantwoordelik is vir die uiters onaangename situasie het besef dat hulle maaksel die liefdeloosheid van die mens nog verder aanhelp deur middel van die slimfoon wat almal deesdae met hulle saamdra.

Nou het die maatskappye Apple, sowel as die Google klomp begin deur die gebruikers kort-kort te maan dat die gebruik van die toestel nou reeds so lank duur.

Die nuwe funksie word bedoel om die gebruiker van die foon te wys hoe lank ons al weer doenig is met die toestel, en is daar selfs ’n aanmaning dat die ding ’n rukkie met rus gelaat moet word.

Klaarblyklik wil die vervaardigers poog om gebruikers ook minder afhanklik te maak van die slimfoon, maar wetenskaplikes sê die poging sal nie slaag nie omdat die foon toenemend meer funksies bied wat gebruikers aanmoedig om daarmee te sit en werk, of speel.

Die slimfoon is deesdae so “slim” dat Die Vryburger gelees kan word, e-posse gestuur kan word, foto’s geneem en versend kan word, en boonop het jy nie meer die MP3-speler nodig nie.

Wat ingebring moet word om verbruikers te “ontmoedig” om heeldag daarmee te sit, is om ’n meganisme in te bou wat die toestel na 30 minute afskakel en dan nie weer aangeskakel kan word alvorens tien minute verloop het nie – maar kenners sê dan verloor die foon sy oorspronklike funksie se doeltreffendheid, om oproepe te ontvang.